Jou Kind Se Denke Verseker Sy/Haar Sukses

Ons “lewensreis” het die afgelope tyd radikale veranderinge ondergaan. Weg is die gemaksones waarin ons so geborge kon voel. Die ironie is dat juis hierdie gemaksones, soms boksies was wat ons weerhou het om probleemoplossend te dink en ons volle potensiaal te bereik.

Ons as ouers moet nou drastiese kopskuiwe maak ten opsigte van ons kinders se opvoeding en denkstyl. Die manier waarop ons kind dink gaan sy/haar lewe rig en sukses vorentoe bepaal, al dan nie.

Ons moet ‘n mentor word van ons kinders se DENKE en dalk ook ons eie denkstyl verander. Elke mens is dinamies en is gedurig besig om te verander – so kan ons ook ons kinders help om oor hul denke “vas te vang” en positief te rig. Hulle moet leer om probleemoplossend te dink in ‘n wêreld wat in ‘n oogwink kan verander.

Baie kinders en soms ook ouers, is geneig om te kla, te kerm, fout te vind, te blameer, uit te stel en hulself te bejammer. Hierdie soort negatiewe denke raak ‘n gewoonte en dit lê innoverende denke lam. Voorheen was daar nog ‘n kans dat mense met sulke geslote denke kon oorleef, maar dit raak bykans onmoontlik tydens ons huidige omstandighede.

Ouers moet hul kinders se denke rig om oplossingsgerig te dink. Deur herhaalde inoefening word dit ‘n gewoonte en later ‘n karaktereienskap.

Hoe Leer Ek My Kind Om Probleemoplossend Te Dink?

Kyk Na Die Volgende Algemene Probleemstellings:

  • Ek sal nooit hierdie wiskunde verstaan nie, dit is te moeilik.
  • Ek het nie geld om ‘n goeie selfoon te koop nie, wat nog te sê van data.
  • Daar is te veel huiswerk, ek sal dit nooit baasraak nie.
  • Ek is nie vir die eerste sportspan gekies nie.
  • Ek het nie maats nie, ek is in elk geval nie so mooi en gewild nie.

Hierdie stellings is almal negatief, geslote en fokus op die probleem. Wanneer die kind die probleem so beskryf, maak dit hul negatief, ongelukkig en hul sien net probleme raak.
Help jou kind om sy/haar denkstyl te verander deur die probleme in ‘n oplossingstyl te beskryf.

Kyk Na Die Alternatiewe (Positiewe Denke) Vir Bogenoemde Probleemstellings:

  • Wie kan my help om die wiskunde te verstaan en waar kan ek voorbeelde kry?
  • Watter werk kan ek doen sodat ek geld kan verdien om ‘n goeie selfoon te koop asook data? (Dalk take in die huis verrig, my opsommings aan vriende verkoop?)
  • Hoe kan ek my tyd verdeel tussen die vakke en met watter deel van die huiswerk sal ek eerste begin?
  • Op watter maniere kan ek verseker dat ek dit geniet in die tweede span en wat moet ek doen om my vaardighede te verbeter sodat ek weer oorweeg sal word vir die eerste span?
  • Hoe kan ek maats maak en watter sosiale vaardighede kan ek aanleer? Wie kan vir my raad gee en vir my ‘n mentor wees?
  • Dit is baie belangrik om kinders te leer om probleme op ‘n positiewe en kreatiewe manier te benader, sodat hulle ook ‘n positiewe houding in die lewe kan kweek.

Wenke:

  • Moenie toelaat dat jou kind na jou toe kom vir oplossings voordat hy/sy nie self aan ten minste twee oplossings gedink het nie.
  • As julle probleme bespreek, vra vrae soos: “wat dink jy…?” en “wat anders kan jy ook probeer…?”
  • Maak oplossingslysies, laat hy/sy dit neerskryf, dit deurdink en bespreek voordat hul ‘n besluit neem.
  • Moet nie voorstelle as “belaglik” en “onmoontlik” afmaak nie. Bespreek ‘n “miskien” en laat hulle dink aan die praktiese uitvoering en gevolge daarvan.
  • Vier oplossings op ‘n vrolike manier en prys die kind vir sy/haar kreatiwiteit en innerlike kragkwaliteit!

Dit is ons DENKE oor ons omstandighede wat ons lewenskwaliteit en suksesse bepaal. Om self hierdie kritieke waarheid te kan toepas en vir ons kinders aan te leer is die belangrikste opvoedingstaak en karatereienskap wat jy vir jou kind kan oordra. Dit is dus ons DENKE oor ons omstandighede wat ons lewenskwaliteit en suksesse bepaal.

Sielkundige: Leonora de Villiers (082 497 3765)

Indien jy bekommerd of onseker oor jou kind voel, kontak my gerus vir hulpverlening (by wyse van epos, telefonies of vooropgestelde  Zoom sessie)