Slaap – ‘n heerlike ontvlugting of ‘n nagtelike teistering?

Vind uit hoekom jy sukkel om jou brein af te skakel en hoe jy dit kan oorkom.

Vandat tegnologie in ons lewe gekom het, kry ons nie  meer genoeg kwaliteit slaap nie. COVID-19, die gepaardgaande angs, asook ons veranderde dagroetine dra tans verder tot ons slaaploosheid by.
Navorsing toon dat ons brein nie van onsekerheid hou nie. Tans veg ons brein teen die onsigbare “virus-vyand” (onsekerheid oor gesondheid van geliefdes, skool, werk, finansies en eiesoortige onsekerhede) en hou ons wakker.
Die brein reageer onbewustelik op onsekerheid en die limbiese sisteem word geaktiveer sodat kortisol afgeskei word vir ‘n veg-of-vlug reaksie. Die kortisol maak die brein meer gefokus, skerp en wakker vir hierdie aksie.
Die feit dat jy angstig is, is goed, want dit wys dat jy omgee en dat jou kognitiewe prosesse na oplossings en alternatiewe uitkomste soek. Solank dit jou net nie uit die slaap hou nie!

Om ‘n volle nag se slaap elke nag in te kry, is belangrik vir ons algemene gesondheid en geluk. Indien ons te min slaap is ons dikwels knorrig, geïrriteerd, moeg, ervaar ons konsentrasieprobleme en is in ‘n negatiewe bui.
Langtermyn kry ons mediese toestande soos vetsug, diabetes, versteurde hartritme, depressie en vele meer gesondheidsprobleme. Chroniese slaapsteurnis word ook gekoppel aan breinafwykings soos onder meer; Demensia, Alzheimer, Outisme en Skisofrenie.

Terwyl ons slaap, is ons arme brein nog besig om te werk. Die brein sorteer en verwerk die ervarings van ons voorafgaande dag. Daar moet uitsortering en liasering in die nag in ons brein plaasvind sodat daar weer spasie in ons brein is vir die volgende dag se nuwe kennis en ervarings.

Moets en moenies vir ‘n droomslaap:

  • Beplan jou dag en hou by jou roetine. Staan dieselfde tyd op en doen jou werk. Gaan slaap elke aand dieselfde tyd. Jou brein hou van struktuur.
  • Behels jou aandroetine om voor slaaptyd op Instagram, Facebook of Twitter te boer? Wel, dit beroof jou van ‘n goeie nagrus!
  • Moet ook nie jou selfoon langs jou bed laai of as ‘n wekker gebruik nie. Gaan koop vir jou ‘n goedkoop wekker. Die blou spektrumlig verhoed die vervaardiging van melatonien, die slaaphormoon.
  • Kry genoeg oefening deur die dag sodat jou liggaam fisies “moeg” voel in die aand. Dit is nodig om elke uur jou werk of studies te onderbreek en net ‘n draai te loop en/of ‘n paar strekoefeninge te doen.
  • Vermy riller en aksie Netflieks voordat jy gaan slaap. Skakel jou brein ‘n uur voordat jy gaan slaap af. Dit neem ‘n tydjie vir jou brein se golwe om te “stabiliseer” en vanaf vinnige betagolwe na stadige deltagolwe oor te beweeg.
  • Leer om outomaties aan die slaap te raak. Moenie wag vir die “skakelaar” om af te gaan nie. Visaualiseer iets mooi of kyk in jou kop weer na daardie romantiese fliek waarvan jy gehou het.
  • Vermy stimulante soos koffie, sjokolade en nikotien na ses in die aand. Doen ‘n bietjie navorsing oor watter kosse in die aand liefs vermy moet word.
  • Drink ‘n glasie lou water met ‘n halwe teelepel sout 30 minute voordat jy gaan slaap. Volgens navorsing deur WaterCures help die onverwerkte sout die vinnige opname van die water om al die selle van jou liggaam te verfris.
  • Moenie angstig raak en rondrol as jy ‘n paar aande nie kan slaap nie. As jy na ‘n uur nog nie kan slaap nie, staan op en maak vir jou ‘n koppie rooibostee of milo. Klim dan terug in jou warm bed. Sit in die donker en drink jou warm drankie terwyl jy aan iets aangenaam dink.
  • Dit help ook om jou diep ritmiese asemhalingsoefeninge in die bed te oefen indien jy sukkel om af te skakel.
  • Jou bed is nie ‘n lessenaar waarop jy huiswerk moet doen en lê en leer nie. Jou brein moet die bed met slaap  assosieer en gevolglik afskakel wanneer jy op jou bed gaan lê, anders verwar jy jou brein en weet dit later nie meer of dit moet af- of aanskakel nie. Indien jy wel jou bed as ‘n lessenaar moet gebruik, moet jy op ‘n stoel voor jou bed sit en werk.
  • Oefen aan ‘n paar van hierdie “droomoplossings” sodat die slaap jou nie soos ‘n lastige muskiet ontwyk nie.

Luister ook na die RSG-program deur prof. Pieter Kruger van NWU wat navorsing gedoen het oor slaap, veral wêreldwye bevindige gedurende hierdie COVID – 19 tydperk.

Hier is die skakel: http://rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/LUVE%20MONITOR%2019.05.2020%20-%202.mp3

Sielkundige: Leonora de Villiers (082 497 3765)

Indien jy bekommerd of onseker oor jou kind voel, kontak my gerus vir hulpverlening (by wyse van epos, telefonies of vooropgestelde  Zoom sessie)