Hoeveel tyd, oefening, kennisverkryging en effektiewe ontwikkeling plaas jy in die belangrikste bate van jou hele bestaan, naamlik jou BREIN?

Besef jy dat sonder jou brein jy geen denke, verhoudings en sinvolle bestaan het nie?

Hoe kan ek in my brein belê en dit optimaal ontwikkel?

In die weke wat volg gaan ons verskeie aspekte van breinontginning in die blog bespreek , met interessante wenke, verwysings en ook  oefeninge vir breinontwikkeling. Moenie die blog misloop nie!

 Belê in jou brein deur meer te lees:

Lees is die mens se magtigste vaardigheid. ‘n Mens lees met jou brein en nie met jou oë nie.

Prakties beteken dit dat die oë net die sintuig is wat die inligting na die brein bring vir verwerking. Die brein gee betekenis aan alles. Die brein is so wonderlik dat dit selfs kan voorspel wat die inhoud van die teks gaan wees deur net na die hoofopskrif van ‘n teks te kyk.

Dink maar aan die hoofopskrif van ‘n koerant op ‘n lamppaal. Sonder lees word jou wêreld deur jou bure bepaal. Al wat jy dan leer is tweedehandse inligting vanuit gesprekke wat meestal onvolledig is.

Lees ontsluit jou verbeelding en die wêreld rondom jou. Dit is ongetwyfeld die belangrikste vaardigheid wat ‘n kind kan aanleer. Lees stimuleer die ontplooiing van die breinnetwerk.

Meer breindendriete (worteljies) groei uit die neurone (selle) wanneer jy lees en kennis inwin en vul die brein met ‘n inligtingsverwerkngsnetwerk. (Visueel kan dit voorgestel word as spaghetti.

Daar kan min spaghetti in jou houer wees as gevolg van min lees en onvoldoende stimulasie of die houer/brein kan vol spaghetti “dendriete” word met baie interkonneksies) Breinskanderingstegnieke  (neurowetenskaplike ontwikkeling) het dit vir ons moontlik gemaak om die werking van die brein te verstaan en ontwikkeling te optimaliseer.

Die hedendaagse  klemverskuiwing van lees as primêre inligtingsbron na oudiovisuele inligtingsbronne het ‘n verandering in die nuwe generasie se breinontwikkeling tot gevolg.

Navorsing toon dat die afname in lees as primêre oorsaak van die krisis in die onderwys beskou kan word. Benewens die rol van lees, is daar nog faktore wat ons breinontwikkeling in die inligtingsera beinvloed – soos die hoeveelheid inligting waarmee ons daaglikse gebombardeer word.

Die direkte gevolg hiervan is dat ons baie besig is om massas inligting in te neem, maar juis as gevolg van die volume, nie werklik tyd het om die inligting deeglik te verwerk nie.

Met ander woorde ons fokus verskuif vanaf verwerking na blote inname.

Breedvoerig gesien, vergeet ons gou hierdie inligting, want dit is nie intern verwerk nie. Daarmee saam verouder kennis gou. Wat die kind nou op skool leer, gaan nie meer relevant wees teen die tyd wat hy/sy skool verlaat nie.

Inligting is in elk geval oral beskikbaar vir diegene wat weet watter knoppie om te druk. “Google” het ons bron van kitsinligting geword. Ons moet waak teen “breinvervlakking” omdat ons kennis vining wil “uitgooi” en kitsinligting wil verkry omdat ons deel geword het van ‘n “kitsoplossingwêreld”.

Ons brein moet altyd kritiese analise doen van inligting.

Wat kan jy nog doen om jou brein te ontwikkel?

  1. Verander jou persepsie dat jou brein ‘n weggesteekte orgaan is wat optimaal sal werk sonder enige doelbewuste pogings van jou kant om dit gesond te hou en dit verder te ontwikkel.
  2. Belê in ‘n studiemetode, want leer bly ‘n lewenslange proses wat breinontwikkeling stimuleer. Hoe gouer ons leer om korrek te leer (die brein reg in te span), hoe gouer sal ons die leerproses geniet en suksesvol daarin wees.
  3. Lees oor jou brein en verkry kennis oor die voeding wat jou brein benodig, oefeninge om jou breinspiere te versterk en die voorkoming van moontlike breinsiektes.
  4. Die belangrikste is om krities te dink oor enige inligting wat jy lees. Kritiese denke en die analise van die inhoud is ‘n hoër breinfunksie en stimuleer breinontwikkeling.
  5. Die brein se kreatiwiteit moet ook ontwikkel word. Kreatiwiteit is nie net ‘n gawe waaroor kunstenaars beskik nie. Ons het almal kreatiewe vermoëns en het kreatiewe denke nodig vir aanpasbaarheid en oorlewing binne ons leefwêreld. Daarom is dit baie belangrik om ons regterbrein, wat die kern van ons kreatiwiteit is, voordurend te stimuleer en probleemoplossingsvaardighede aan te leer.
  6. Dit is van kritieke belang om ‘n akkurate breinprofiel van jouself te verkry sodat jy jou breinvoorkeure kan verstaan. Dit lei tot beter insig waarom ons sekere keuses maak en waarom mense van mekaar verskil. Die breinprofiel verleen aan jou kennis oor watter dele van jou brein ontwikkeling benodig sodat jy optimaal “heelbrein” kan funksioneer.

Slotsom

In hierdie tyd van onsekerheid besef ons opnuut dat ons na ons gesondheid moet omsien. Dit sluit fisiese en geestelike gesondheid in waarvan die kern ons wonderlike brein is.